1

Deel ons kindwees met Harmen!

Vannaand het ons, ons klein Kabouter bekend gestel aan ons kinderdae gunstelinge!  ‘Neels Holgerson’…  Episode 1, 2, 50, 51, 52.  Vasgenael en met n stywe druk… Aan die einde is Neels toe met ‘rus’ gelaat, by sy Pappa & Mamma.  Grootseun wat hy geword het!  More aand is dit Niklaas!  Dawie die Kabouter se temalied het ons geluister, maar na 30 jaar sien ek nog nie kans vir nog n finale episode waar Dawie in n boom verander nie!  Ons spaar Harmen die hartseer nog  rukkie. 

0

Groot Meneer Gesprekke!

Groot Meneer se gesprekke is te dierbaar vir woorde!  Harmen klink al hoe meer soos ‘n groot seuntjie as ‘n peuter, selfs as ‘n kleuter.  Ons antwoorde word nou beaam met ‘n ‘Ooo’ en selfs sommer partykeer ‘n ‘goed dan’.

Sy Pa, Herman, het in die week ons bome in die tuin gesnoei.  Die son skyn te heerlik by die huis in en hoef nie meer te sukkel deur die honderde blaartjies nie.  Harmen, natuurlik was nie baie beindruk nie!  Volgens hom lyk dit nie mooi nie en moet sy Pa dit nog regmaak.  Selfs na ‘n verduideliking van ‘n boom moet ook ‘hare sny’, was die hartjie maar nog klein.

Harmen is ‘n seuntjie van 3 jaar en 2 maande, wat hy nie aldag lyk of selfs glo hy is nie!  Tans dra hy ‘n nommer 10 skoen grootte, nommer 9 was nooit eens van toepassing.  Hy dra ook meestal 4 tot 5 jaar kledingstukke, maar die baadjies neig na 5 tot 6 jaar.  Seker maar omdat alles mos vanaf die ooste kom en P. E. P. Boutique asook A. C. Kermans dink mos ons het riete vir kinders.  Kyk vet aan daardie lyfie is daar wraggies nie, maar groter koop ons groter.

Met die Knysna-Brande het ons ook donasie gestuur, dit moes by verskeie punte afgelaai word. Op daardie stadium het ons nog spesiaal Goodwood Brandweerstasie toe gery.  Die Kabouter was darem baie opgewonde om te hoor waarheen ons daardie middag sou gaan.  Min het hy geweet wat op hom wag!  Die hartjie het oorgeloop van vreugde en wou die ‘Oom Brandweerman’ sommer ‘n soentjie gee toe ons koebaai moes sê.  Harmen het so baie beleef en gesien, dit was ‘n voorreg!  Van opgerolde pype, ‘n hoed op die kop, tot selfs ‘n brandweer-trok van sy eie!  Daardie aand het Harmen as ‘n Brandweerman gaan slaap in murg en been!

Playball lê vir Harmen baie na aan die hard.  Op ‘n Dinsdag is dit een van die makliker dae om vir Harmen uit die bed te kry!  Sy rapport het ook gekom, dit is darem wonderlik wat hul alles doen en leer met so ‘n sessie!  Die vaardigheid en aanwins is vêr bo ons begrip!  Soos jul weet glo ek vas Harmen gaan nie rugby speel nie.  Ek Tennis-Tennis vreeslik!  Dit het nog nie vreeslik ingesink nie, maar ‘klieket’ is op die wenslysie vir die Kabouter!  ‘Springbok Klieket’!  🙂

Na ‘n vinnige nota, moet die ‘kliek’ eers groet!  Klein ‘kliek’ moet gaan haal word!

Vrede!

 

 

0

Amen…

Vannaand is my en Pappa se ogies sopnat met ‘Amen’ sê.

Gewoontlik is dit of Mamma en Pappa wat moet bid en Harmen wat alles beaam en in kleur en geur wil bylas…

Vannaand na badtyd is Harmen soos gewoontlik, woeps, in die bed.  Voor ons kon vra wie bid sê die Grootseun dat hy sal bid en neem ons hande sodat ons n sirkel vorm.

Hy begin:  ‘Dankie Jesus sodat ons kossies vandag kon eet.’  Net daar dink ons dis die einde van sy gebed, soos normaal, maar nee… dié woorde volg toe: ‘Dankie dat ons Jaco en Marco kon kuier, Dankie ons Ouma ‘Lies kon kuier, Dankie Pappa en  Mamma vir my baie lief is… AMEN!’ 

Vannaand gaan slaap daar n baie gelukkige seuntjie, van n feestelike Vrydag met Ouma Lies se verjaarsdag tot n prettige Saterdag saam met Pappa by Agrimark en daarna gate uit geniet by Oupa Gerrit. Word die naweek afgesluit met n kersie op die koek…  Hy kuier by Jaco en Marco!

Geseënd was ons vandag om so saam te kon kuier!  Sal dit vir altyd koester en nou verewig vir Harmen en Anet!  xxx

0

My Lemoenpitjie raak by die dag groter.  Soos uit sy mond:  ‘Ek’s nie baba, ek’s grootseun’!

Anet Cornelia Lotz is gebore!  Wat n pragtige soet dogtertjie!  Harmen noem haar ‘my Poppie’!  Die bekendheid van so n kleinding is nog vars, al is ons drie jaar verder!  Darem jammer hul raak so gou groot, maar midde in daardie tydperk, dankbaar vir elke geseënde week wat verby vlieg!

Harmen aardjie na sy vaartjie, is die Babbel én die Bekkie in sy verhaal.  Die kleinman is omtrent prettig met al sy sê-goed.  Harmen het die tarentale langs die pad piketale genoem.  Toe hy agterkom ons praat weer van dit en lag daaroor, word dit vinnig tarentale, met n uitdrukkingsgesiggie soos iemand wat n hap aan n suurlemoen neem.

Gisteraand sien hy n begaafde seuntjie wat die klavier speel.  Skielik sê hy:  ‘Die seuntjie het baie hande!’  Priceless!

Bernard is sy goeie vriend en alhoewel Bernard n voorbeeld is, kan die beertjie ook maar stout raak.  Dan is dit stoeltjie toe en daar sal hy sit!  Mamma self was n dag of wat terug gevang met n lelike woord wat geuiter was.  Voorland, stoeltjie.  Dankbaar dat ek nie n goeie gedeelte van amper n uur moes sit nie, maar n skamele 3 minute.

Lampie en Bulby, is steeds die heros by die kerk!  Was die kleinman nou bly om na n lannng vakansie hul weer te sien.  Hy het ook in die vakansie verjaar en dus gehardloop vir die oorhandiging seremonie van n chomp!

Harmen het sy tweede uitslaap aand gehad by Ouma en Oupa Dunn.  Grootseun soos hy is, nie eens sy Pappa of Mamma gesoek!  Hy het selfs soos Oupa Connie, kaal bolyf aan die slaap geraak.

Harmen is n aktiewe seuntjie. Hy sê gedurig hoe hy oefeninge doen, en gooi die lyfie lank uit teen die bank en doen strek oefeninge.  Hy gaan, volgens hom, vir die Springbokspan speel.  Hy gaan vinnig hardloop!  Ai, Mamma hoop verniet dat dit n atletiese hardloop is.

Vir nou groet die Mamma🚼 met n stringpêrels om haar nek, n geskenk vir Moedersdag… en twee diamante in my hart!

0

Harmen  word 3!

Kan jul dit glo!  Dit was dan nou-die-dag toe so n kleine koppie in my een hand kon pas, donker hare en donker velletjie.  Nou is die Lemoenpitjie n Kabouter met lig, amper wit blonde, hare.

Soos jul weet het Harmen gevra vir n Voetspore-Madagaskar partytjie.  Wel, Pappa en Mamma het hard gewerk en Harmen het sy ,Voetspore partytjie gekry.  Dit was baie spesiaal veral as die maatjies by die naam, selfs soms die van genooi was!

Dit was n prettige affêre met lekkers en speelgoed.  Ons ouers rustig terwyl kinders hul gate uit kon geniet en speel.

*In die 3 jaar het ek geleer:

Swangerskap is nie so ‘glamorous’ nie, maar n onbeskryflike spesiale 9 maande

Jy is nou Mamma en Pappa en jou ‘kindwees’ status verskuif na n klein bondeltjie liefde

Geduld, werk nog hard daaraan

Weer die wêreld uit n kind se oog te sien

Mediese fonds is n moet, en ons is, dank Vader, nie sieklike mense

Dokters is goedkoper as Pediaters en dat kinders breek nie maklik!

Kruip, stap, praat en self eet word een of ander tyd self bemeerster.  Geen Stellenbosch student het kruip-kruip, strompelend, suigend en skreeuend die kampus ingekom nie!  (Onder normale omstandighede en waar nie drank betrokke was nie)

Roetiene, Dissipline & Geloof is die fondasie waarvan af jy bou

Die belangrikste van als…  GEBED, bid vir hulp genade en bystand!

Dat dit 90% hardewerk en sweet is om jou kindjie groot te maak, 10% ‘lekkertes’…  Maar 100  x 100 keer die moeite werd!

*In die 3 jaar het Harmen geleer:

Drink

Eet

Lag en praat

Kruip, klouter en stap… en toe hardloop!

van Dagmoeder tot skool

kleure, vorms, tel… 

Roetiene en Dissipline, werk hard daaraan 😉

Belangrikste dat God in sy hartjie woon en dat Hy vir hom lief is en veilig hou.  Ook dat Pappa en Mamma vir Harmen liewer as lief is, en ons hom sal leer, beskerm en saam pret hê!

Die lysie van ondervindinge wat nog geleer moet word is langer as my arm, maar pak dit saam aan met ywer, lus en gedetermineerdheid.

Harmen het vanoggend na seker iets soos amper n jaar later weer tussen my en Herman kom lê.  Daardie in-haal slapie van 7 tot 8h, wat jy die hele nag , voel dit, gemis het.  So klein handjie vat my hare en streel saggies oor my kop…  Dit is PRYSLOOS!!!

Groetnis tot n volgende keer ek het n 3 jarige om te liefkoos! xxx


0

Cederberge & Cederklippe

Sjoe, wat n bedrywige paar weke.  Ons skop dit af met n welverdiende vakansie in die Cederberge, daar waar Vodacom, MTN, Cell C en al die ander maatjies nog lank nie sal kom.  Dit was n belewenis vir Harmen.  Dis net Cederberge voor en agter.  Hy is ook die een wat gesê het:  ‘Cederberge het baie Cederklippe’, tog n wyse opmerking.  

Kromrivier Park is waar Harmen die Cederberge leer ken het, nes sy Pappa jare vantevore.  Dis beeldskoon, vars, groen, aards presies waarna n bedrywige stadsiel soek.  Selfs daar is vernuwing en word daar omtrent gebou en breek.  Al die ‘opslaan’ huise soos ons dit ken word gesloop vir grênd nuwe baksteen huise.  Dit met hul skottelgoedwassers, luukse badkamers met Hans Grohe krane.  Beslis vir die uitlanders.  Wat is nou lekkerder as n buite braai, kosmaak op n tweeplaat en skottelgoed met n bietjie Sunlight?!

Harmen het die wye wêreld gehad om te speel, hy was saans pikswart-vuil.  Iets wat n bad in n koelboks vinnig kon regstel.  n Stort sou nie die ding doen.  Op die plaas is daar nou n onthaalsaal aangebou, steeds met n klein winkel vir daardie extra benodighede of selfs n soetdingetjie…  vir Harmen die DORP!

Van n heerlike middagslapie in die veld tot n vinnige swem in n riviertjie, Harmen was uit sy nate.  Nie dat hy stout was nie, ons het nie geweet van n kind!  Hy het sy blou scooter, wa (hak) en graaf gehad.  Hy het op en af gespeel, ja selfs daar doer vêr, gelukkig nog te siene met die oog.  

Saam met ons het hy verken, geklim en geklouter, gespeel en geleer.  Dis n belewenis wat diep in sy hartjie gebêre sal word.

Saans is daar gebraai en het Harmen ywerig nader gestaan.  Soggens as die son vir die landskap begin loer was hy gereed vir die volgende dag se ontdek.  Oupa het selfs vir hom n ‘kasteel’ opgeslaan, wat saans Oupa se slaap tent sou wees.  Die wêreld was besaai met akkers, vir Harmen soos n Toys R Us.  Die een speletjie na die ander kon met dit gespeel word.

Harmen het ons omtrent vermaak!  Hy wou van alles en nogwat weet.  ‘Wat eet hulle?  Wat maak hulle?  Waar is die Dassie nou?’

Nankies is gelukkig slaap-slaap die Cederberge in en ook weer so daaruit.  Kyk dit is maar hoog…  daardie berge is nie sandhope nie.  Net oor Pieknierskloof vra hy dat ons terug gaan Cederberge toe.  Selfs daardie Maandag was daar gesê dat ons die naweek weer moet gaan!  😉

Dis n besliste moet-weer, hopelik nog n paar-keer!

Mooiloop!